Not Logged in
SARL News Bulletin Archive



Home

Bulletin by e-mail
Bulletin Archive



SARL-NUUS - SONDAG 6 FEBRUARIE 2011

U luister na ZS6SRL, die amptelike radiostasie van die Suid-Afrikaanse Radioliga, die nasionale vereniging vir amateurradio in Suid-Afrika, met 'n nuusbulletin wat elke Sondag om 08:15 SAT in Afrikaans en om 08:30 SAT in Engels uitgesaai word. Oudio is ook beskikbaar via die internet by www.sarl.org.za. Klik op 'ARMI' en volg die skakels soos aangedui. Let asseblief op: Vir oudio via Echolink, koppel met ZS0JPL-R.

Hierdie en vorige bulletins kan van www.sarl.org.za afgelaai word en u kan ook daar inteken om toekomstige bulletins per e-pos te ontvang.
U nuusleser is (naam en roepsein), op 145,725 MHz vanuit Pretoria, met herleidings op 7,066 en 3,695 MHz ESB. (Ander nuuslesers verander soos toepaslik.

In die nuus vandag:

NUWE REGULASIES

TOEKENNING VA ZS9 ROEPSEINE

TONY REUMERMAN BEURS TOEGEKEN

U luister na ZS6SRL. Bly ingeskakel vir meer besonderhede oor hierdie en ander belangrike en interessante nuusitems.

NUWE REGULASIES

Die Raad van OKOSA het die gewysigde konsepregulasies nagegaan. Dit het gevolg op die publieke verhoor, wat vroeg in Desember gehou is, waar die SARL ʼn lang en gedetailleerde voordrag gelewer het oor die besorgdhede van die amateurradiogemeenskap. Die SARL verstaan dat ʼn verdere konsep in die Staatskoerant gedurende die volgende twee weke gepubliseer sal word. Hierdie keer sal geen publieke verhoor gehou word nie maar geskrewe kommentare sal ingewag word. Die SARL sal ʼn wakende oog hou en die tweede konsep beskikbaar maak sodra dit in die Staatskoerant gepubliseer is.

TOEKENNING VA ZS9 ROEPSEINE

Toe die oorspronklike versoek aan OKOSA, vir die uitreiking van ZS9-roepseine gerig is, is ʼn voorstel deur ʼn groep radioamateurs, wat ʼn kompetisiegroep gestig het, was dit bedoel dat ZS9 roepseine slegs aan ʼn klub vir kompetisiedoeleindes toegeken sou word. Daar is tans indiwiduele amateurs wat aansoek doen vir ZS9 roepseine vir hul eie algemene gebruik. OKOSA is nou besig om te kyk na die opstel van riglyne wat die toekenning van die uitreiking van ZS9 roepseine sal reguleer. Die item is op die agenda van die OKOSA/SARL skakelvergadering wat op 25 Februarie 2011 gehou sal word.

Een opsie sou wees om ZS9 roepseine te reserveer vir spesiale kompetisiestasies op ʼn gevalle grondslag. Indien die ZS9 voorvoegsel toegeken word aan ʼn indiwidu sal dit sy spesiale betekenis verloor. U kommentaar word ingewag deur dit voor 18 Februarie 2011 te stuur aan armi@sarl.org.za om die Raad van die SARL die geleentheid te gee om U insette in ag te neem voor die SARL se kommentaar aan OKOSA by die skakelvergadering ter tafel gaan word. Hou asb. u kommentaar kort en bondig.

TONY REUMERMAN-BEURS TOEGEKEN

Die Suid-Afrikaanse Amateurradio-ontwikkelingstrust het die Tony Reumerman-beurs wat toegeken word aan jongmense om te studeer vir die klas A radioamateureksamen aan Dirk Johan van Vuuren van Krugersdorp toegeken.

Die beurs wat R1 000 bedra is bedoel om te betaal vir die eksamenfooi, een jaar studentelidmaatskap van die SARL, kursusfooie en ander studiemateriaal.

Die Tony Reumerman-beurs is onlangs gestig in erkenning van die bydrae wat Tony aan die tegnologiese ontwikkeling in amateurradio gemaak het. Hy en sy familie het ʼn bedrag R20 000 geskenk wat belê is en waarvan die rente gebruik word om die beurs te finansier.

Die Trust het nog twee beurse beskikbaar gestel. Dit is ironies dat op klubvlak dikwels gesê word dat jongmense nie die koste van die kursus of die eksamenfooie kan bekostig nie, en tog, toe die Trust die beurse bekend gemaak het vir jongmense onder 25, slegs een aansoek vir die Mei eksamen ontvang is. Vir nadere besonderhede besoek gerus:- www.amateurradio.org.za.

KLETSKOUS – MEER BESONDERHEDE BESKIKBAAR

SA AMSAT het verdere dokumentasie beskikbaar gemaak wat besonderhede oor die beoogde KLETSkous KubusSat-projek uiteensit. Besoek www.amateurradio.org.za vir besonderhede.

ARISAT-1 VOLGENDE WEEK VANAF IRS GELANSEER

Ekspedisie 26 se vlugingenieurs Dmitry Kondratyev en Oleg Skripochka, RN3FU, sal op Woensdag 16 Februarie uit die ruimtestasie (IRS)klim. Terwyl in die ruimte sal hulle eksperimente installeer en ander vanaf die Russiese deel van die kompleks herwin en ʼn klein amateursatelliet, ARISS-1 ontplooi. NASA se TV-uitsending sal om 06:45 (SST) begin terwyl die ruimte-uitstappie omtrent 30 minute later sal begin.

Tydens die ongeveer 6 uur se ruimtewandeling sal Kondratyev en Skripochka ʼn eksperiment genaamd ARISSat-1, ontplooi. Dit is ʼn kasvormige 57-pond nano-satelliet met groeteboodskappe wat die 50ste herdenking van Yuri Gugarin se loodsing as die eerste mens in die ruimte herdenk. ARISSat sal kommunikasie met radioamateurs om die wêreld vir drie tot ses maande toelaat. Dit is die eerste van ʼn reeks opvoedkundige satelliete wat ontwikkel word in vennootskap tussen Radio Amateur Satelliete Corp, NASA se kantoor van opvoedkundige internasionale ruimtestasie se Nasionale laboratoriumprojek en die Amateurradio op die Ruimtestasie (ARISS) se program en RCS-Energia.

U kan op http://www.nasa.gov.ntv na ʼn lewendige uitsending kyk.

ARISSAT word tans aan boord van IRS getoets en kan op 145,950 MHz gehoor word wanneer dit oor Suid-Afrika wentel.

TWEEDE ZS-WAS TRIPLE PLAY TOEKENNING GEMAAK

Kort op die hakke van Barry, ZS2EZ, is 'n tweede Worked All States Triple Play toekenning aan 'n Suid-Afrikaanse radioamateur gemaak. Sertifikaat no 508 gedateer 17 Januarie 2011 is aan Donovan van Loggerenberg, ZS2DL, toegeken vir bevestigde kontakte via Logboek van die Wêreld met al 50 state van die VSA op foon, GG en RTD.

Baie geluk Donovan!

KOMPETISIENUUS

Die SARL Digitale Kompetisie is geskep om kontakte tussen radioamateurs in Suider-Afrika te bevorder op PSK31 en/of RTD. Die kompetisie is oop vir alle radioamateurs in Suider-Afrika.

Die eerste Digitale kompetisie vir 2011 sal vanaf 13:00 tot 16:00 UTC op Sondag 27 Februarie op die lug wees met werking op 80, 40 en 20 meter. Die volgende segmente moet gebruik word, op 80 meter - 3 580 tot 3 600 kHz; 40 meter - 7 040 tot 7 060 kHz en 20 meter - 14 070 tot 14 099 kHz met PSK31 verkieslik op die laer gedeelte en RTD verkieslik op die hoër gedeelte van die gespesifiseerde frekwensies. Neem kennis dat HSB ten alle tye gebruik moet word.

'n Stasie mag twee keer per band gekontak word, een keer op RTD en een keer op PSK31. 'n Seinrapport en 'n aaneenvolgende nommer beginnende by 001 word uitgeruil. Die volledige reels is beskikbaar op bladsy 58 en 59 van die 2011 SARL Kompetisiehandboek.

Uitslae van die 2011 Somer QRP Draf

15 logs is ontvang wat daarop dui dat daar minstens 72 stasies op die lug was. Van die 15 logs ontvang het 5 stasies op albei modusse gewerk (ESB en GG).
Al die afdelings was aktief asook 2 DX-stasies. Daar was slegs ʼn paar ZR en ZU’s – wonder hoekom.

In totaal is 255 kontakte gemaak waarvan 234 foon en 21 GG was.

Die finale uitslae is as volg:

1ste ZS6WR 792 punte
2de ZS6A 768 punte
3rde ZS6AF 720 punte
4de ZS2J 675 punte
5de ZS6XT 560 punte
6de ZS6SKY 528 punte
7de ZS6BNE 240 punte
8ste ZS6SGM 234 punte
9de ZU6TAN 180 punte
10de ZS5J 168 punte
11de ZU6HOT 165 punte
12de ZS6RBJ 150 punte
13de ZS6ARQ 140 punte
14de ZS6APT 88 punte
15de ZS2EC 60 punte

HF VOORTPLANTINGSVOORSPELLING

Hannes Coetzee, ZS6BZP, rapporteer dat die sonaktiwiteitsvlak steeds op 'n lae vlak is. Sonvlek 1 153 is besig om uit die aarde se gesigsveld te roteer terwyl sonvlek 1 156 baie stil is. Die effektiewe sonvlektelling sal vandeesweek na verwagting minder as 20 wees.

15 m is die beste keuse vir DX gevolg deur 20 m. Smiddae en tot na die son gesak het gaan die toestande na Indië goed wees. Smiddae gaan toestande eers op 15 m en dan later op 20 m na Europa bruikbaar wees. Kontakte met Australië is met sonop op 20 m moontlik. Kontakte met die VSA is op 15 m gedurende die aand moontlik. 15 en veral 20 m-openinge na Brasilië en Suid-Amerika is smiddae moontlik. Met die goeie 15 en 20 m-openinge gaan 17 m vol verrassings wees.

30 m kan vir die digitale en gelykgolfentoesiaste baie lonend wees met openinge na verskeie dele van die wêreld.

Plaaslik is 40 m die beste keuse met 20 en 30 m wat goeie kontakte oor die langer afstande kan oplewer. 80 m is op sy beste vroeg soggens en laat smiddae en ook oor korter afstande.

Saans is 80 m die beste keuse.

Besoek gerus www.spaceweather.co.za vir meer inligting.

DAGBOEK VAN GEBEURE

13 Februarie - 1ste Been van die SARL se Nasionale Velddag eindig vandag, Sondag, om 12:00 SAT met ZS85SARL vir oulaas op die lug.
18 Februarie – Kommentaar oor ZS9 roepseine moet in wees aan armi@sarl.org.za.
21 Februarie - Logstate vir die SARL se Nasionale Velddagkompetisie moet in wees na die Bloemfontein ARK.
25 Februarie - Logstate vir die Antieke radiovereniging se GG-aktiwiteitsdag ingestuur te wees aan Andy ZS6ADY.
27 Februarie - Die eerste Digitale kompetisie vir 2011 sal vanaf 13:00 tot 16:00 UTC op die lug wees met werking op 80, 40 en 20 meter.
28 Februarie - Laaste dag om aanbiedings om 'n stasie tydens die IARU Streek 1 konferensie by Sun City op te rig en te bedryf, in te stuur na iaru2011@sarl.org.za.
25 Maart - SAiSAT Inligtingsessie by die NARS.

SARL-nuus nooi klubs en individue uit om nuusbrokkies van belang vir radioamateurs en kortgolfluisteraars in te stuur. Stuur dit - indien moontlik - in beide Engels en Afrikaans, na www.sarl.org.za/newsinbox.asp, nie later as die Donderdag voor uitsending nie.

Die SARL nooi u ook om te luister na die program Amateurradio VANDAG wat om 10:00 SAT op 145,750 MHz in die Pretoria-gebied uitgesaai word, met herleidings op 7 082, 7 205 en 17 860 kHz. Daar is ook 'n potgooi-uitsending waarna geluister kan word. Vir oudiostrome en Echolink deur ZS6FCS, besoek www.sarl.org.za, klik op 'ARMI' en volg die skakels. 'n Heruitsending vind Maandagaande om 22:05 SAT op 3 215 kHz plaas. Sentech borg die uitsendings op die nie-amateurfrekwensies.

U het geluister na 'n bulletin wat deur Gustav, ZS6BWN, opgestel is.

Dankie dat u saamgeluister het, 73.

/EX


======================= Message Ends =======================
To edit or remove your entry from this mailing list go to www.sarl.org.za/members/admin/maildat.asp



Copyright © 1997- 2006  South African Radio League
Last modified: 14 April 2003